Skip to main content

Bezuidenhout Park Johannesburg, Bezuidenhout Plaashuis 1863, Oorlogsmonument, Bezuidenhout Familie Begraafplaas

May be an image of grass and text that says 'Ou Plaashuis 1863 Bezuidenhout Park 2025'May be an image of grass and text that says 'Ou Plaashuis 1863 Bezuidenhout Park 2025'

PLAASHUIS

In Bezuidenhout Park in Bez Valley (Johannesburg) is hierdie ou familie plaashuis (gebou in 1863) asook ‘n ou familiebegraafplaas.

Die plaashuis is gebou lank voor die stad Johannesburg ontstaan het. Dit is waarskynlik die oudste woonhuis hier wat behoue gebly het. Tans is die huis ongelukkig in ‘n erg verwaardloosde toestand. Die plaashuis is gebou in 1863 op die plaas Doornfontein deur Frederick J Bezuidenhout. Hierdie meer as 160-jaar oue woonhuis staan nog steeds in Bezuidenhoutpark (woongebied Dewetshof, oos van die middestad van Johannesburg). Aanvanklik was dit ‘n eenvoudige reghoekige gebou met die kenmerkende groot voorstoep. ‘n Kleisteen en rietstruktuur. Later is die plaashuis vergroot en het dit ‘n meer Victoriaanse voorkom gekry. In 1890 is aan die suidelike kant aangebou met ‘n pragtige ingeboude boogvenster.

1910 is ‘n verdere vleuel aan die noordekant aangebring. Die huis se mure is besonders dik en was afgewit. Die oorspronklike grasdak is lank gelede al met ‘n sinkdak vervang. Die grond is deur die familie aan die Johannesburg Stadsraad geskenk op voorwaarde dat die huis en begraafplaas onderhou moes word

Op ‘n stadium was die plaashuis deur die Lions Club gebruik. Nou is dit erg verwaardloos en die tuine oorgroei. Daar woon tans heelwat mense in die huis. Vir hulle is dit verseker net ‘n woonplek sonder dat hulle enige begrip en waardering het vir die historiese waarde van hierdie ou plaashuise. Die blou plaat is hopelik nog daar iewers aangebring. Langs hierdie historiese ou huis is ‘n kleiner huisie, op die oog af ‘n ouer huis. Daar word vermoed dat dit moontlik die Viljoens se ou woonhuis was.

Voor die huise en by die begraafplaas is nog teeds reuse ou groot akkerbome te vinde, oorblyfsels of nasate van die oorspronklike bome wat geplant is toe die huise gebou is en die begraafplaas aangelê is.

May be an image of 5 people and text that says 'Bezuidenhout Park Waarkynlik die huis van Barend en Judith Viljoen. Gebou 1850. @2stmseasinet The oldest house in Johannesburg, built sometime around 1850.'May be an image of text that says 'Bezuidenhout Park 2025'

BEZUIDENHOUT-FAMILIE

May be an image of monument and text that says 'Bezuidenhout Park 2025'May be an image of monument and grass

Lank voor goud in hierdie area ontdek is, het verskeie boere plase hier kom vestig. 1851 het hierdie pioniers vanaf die Kaapkolonie getrek om hulle boerderye hier in die Transvaal voort te sit. Verskeie voorstede dra vandag nog die name van hierdie oorspronklike plase soos bv. Langlaagte, Diepkloof, Turffontein, Doornfontein, Braamfontein ens. Een van die eerste pioniers in hierdie area, Frederick Jacobus Bezuidenhout (1825-1900), het hom kom hier kom vestig in die 1950’s.

Die plaas Doornfontein was ‘n pragtige groot uitgebreide plaas met ‘n groen vallei en ‘n vlei. Doornfontein het gestrek van Judith’s Paarl tot by Cyrildene, oor die plaas Gillooly’s en die Kensington Rif in die suide. Die plaas Doornfontein het behoort aan Barend Christiaan Viljoen ( 1807-1859) en sy vrou Judith Cornelia Theresa (Booysen) Viljoen (1807-1861). Hulle het die plaas reeds vroeg in 1851 gekoop. Die storie word vertel dat hulle die plaas gekoop het vir een wa, ‘n span osse en ‘n trekketting. Doornfontein was een van 20 plase waarop die toekomstige Johannesburg sou ontstaan.

May be an image of monument and text that says 'Besuldenhout Familie Begrañtpla A'May be an image of monument

Frederick J Bezuidenhout trou met Judith Cornelia Ethresia Viljoen (1831-1904), die eienaar van Doornfontein se dogter. Sy het die naam Judith’s Paarl aan daardie gebied gegee. September 1861 (na sy huwelik met Judith Viljoen) koop Frederik die noordelike gedeelte van Doornfontein by die weduwee van BP Viloen net so ‘n paar maande voor sy sterf. Hy het hierdie ou plaashuis op sy plaasgedeelte gebou. 1886 is goud in hierdie area op die plaas Langlaagte ontdek en baie van die omringende plase is mettertyd verkoop vir delwerye of as woonplekke vir die delwers.

De Bezuidenhouts het hulle plaas bewerk vir meer as 30 jaar.

Aangesien dit reeds bewerkte grond was, was dit nie as publieke delwersgrond geproklameer nie. Stadig maar seker het hulle egter ook stuk vir stuk van hulle plaas begin verkoop. Gedurende die 1890’s was die westelike deel van Doornfontein (tans Doornfontein uitbreiding) die woonplek van die rykes en welvarendes. Die Randlords het hier hulle wonings en kantore gebou o.a. Barney Barnato. Baie van hierdie eerste inwoners was Joods, in Siemertstraat was ook ‘n Joodse Sinagoge gebou. Later het hierdie Randlords na Parktown verskuif en Doornfontein het stadig maar seker begin agteruitgaan Een van Frederick se seuns, Willem Bezuidenhout het in die plaashuis gewoon tot ongeveer 1950. Maart 1949 het Willem 133 hektaar aan die stadsraad van Johannesburg geskenk met die voorwaardes: Dit moet in ‘n park met die naam Bezuidenhout Park ontwikkel word. Die plaashuis en begraafplaas moet ook onderhou word deur die Stadsraad. Die park was netjies ontwikkel met grasperke, ontspanningsgeriewe, ‘n miniatuurtreintjie en spoorlyntjie, ‘n swembad,’n karavaanpark en sportfasiliteite.

May be an image of grass and treeMay be an image of monument and grass

Tans is daar ongelukkig weinig daavan oor. Die sokkerveld word darem nog gebruik. Barend Bezuidenhout, een van Frederick se kleinseuns het die meeste van die grond onderverdeel en verkoop. Hy self het in Kensington gewoon in ‘n huis met dienaam Kosmos, tans ‘n aftree-oord.

1980’s het Alan Bluff, bestuurder van Johannesburg Tegniese dienste en Opleiding vir 8 jaar in hierdie ou plaashuis gewoon.

Hy het dit tot ‘n pragwoning herstel met ‘n asemrowende tuin wat gewild was onder fotograwe, toergroepe en wyd bekend was vir die pragtigste tuinonthale.

May be an image of grass, monument and textMay be an image of monument and textMay be an image of monument and text that says 'IN RONOUR AND IN MEMORY OF THE MEN OF THE BE BEZUIDENHOUT VALLEY WHO FELL IN INTHE THE GREAT WAR 1914 1918 gaNs D50 5인 R.F.C. ggAt grs COL SIR FARRAR LIEUT Wa ROL ND MURRAY HALLIWELL CADET WELLS Barry SERGT MAJOESH CRAIG SENGT CHAS HUDSON CORFL ANDERSON E ANDERSON H. 1.0.CRAIC CRAIC E DALGLEISH LA PALMER JCHN PATIENCE 3COTT HAIRY BAKER CORPL SMITH WF. T SWEETMAN SPOTTISWO0OE7: G G.CAPEL Jh C.BDYDER F.B.CINNINCHAN JNNU ИCKAЛ PrSAL SIG PTE pr jan'

BEZUIDENHOUT –Familie hou RE-UNIE (deel herinneringe)

1982 het 50 Bezuidenhouts hier bymekaargekom vir ‘n familie re-unie.

Die 90-jarige kleindogter van Frederick het kosbare staatjies en herinneringe uit haar kinderdae op hierdie plaas met almal gedeel.

Sy vertel:

Een van ouer mans in die familie het sommer so van die stoep af ‘n leeu onder in die vlei doodgeskiet. Sy het kosbare herinneringe aan haar grootouers wat sjampanje teug in die voorhuis by ‘n flikkerende kerslig terwyl hulle rustig gesels en nuus oor familie en vriende uitruil. Sy onthou ‘n muurskildery van Kaapstad se hawe, nou verberg onder ‘n dik laag verf. Sy onthou die was ‘n Dassie Wandelpad ,“Dassie Trail”. Boere van die omliggende plase het beurte gemaak om gasheer te speel vir Sondagmiddagete. Hulle het sommer so deur die veld na mekaar toe gestap. Op Observatory Rif was destyds baie dassies. Die boere het dan eers gou ‘n paar dassies geskiet en dan saamgeneem om as deel van die ete te dien. Daar was ook ‘n Okkerneut Wandelpad (Walnut Route). ‘n Wandelpaadjie deur ‘n laning neutebome wat gelei het na waar die rolbalbaan tans is. Die wandelpaadjie en neutebome is nie meer daar nie.

ABO 1899-1902

Die Britte het die plaashuis tydens die oorlog as ‘n basis gebruik. Die plaas was hoofsaaklik gebruik as ‘n perdekamp waar perde eers ‘n tyd lank gewei het om aan te pas by die klimaat en omstandighede van die Hoëveld. Sowat 4000 perde was hier versorg deur 2000 Indiërs. Hier digby was ook ook ‘n swart konsentrasiekamp, of arbeiderskamp.

BEZUIDENHOUT BEGRAAFPLAAS

Die Bezuidenhout Familie Begraafplaas is nog steeds in die park. Ongelukkig het dit ook al onder die hande van vandale deurgeloop. Elke denkbare stukkie metaal is reeds gesteel. Die omheining het ook al verdwyn. Die 2 boë waar die ingange was is nog mooi behoue en duidelik leesbaar. Die besonderse engel op die een graf het ook lankal verdwyn. Daar is steeds die pragtigste grafstene met die mooiste en fynste detail, ongelukkig ook in gevaar van verval.

Bewoording op een boog

BEZUIDENHOUT FAMILIE BEGRAAFPLAAS

op die ander

ALS IN HET LEVEN ZOO OOK IN DEN DOOD

VEREENIGD

In 2011 was daar opname gemaak van grafskrifte wat nog leesbaar was.

Baie grafte was verberg onder die lang gras, ander reeds verdwene.

JA Muller 1857-1909

Barend Christiaan Bezuidenhout 1859-1925

Adriana Maria Petronella Bezuidenhout (nee Muller) 1862-1939

Groot rooi granietsteen van :

Frederik Jacobus Bezuidenhout 1825-1900 (Snr). Sy kinders was FJ Bezuidenhout jnr, BC Bezuidenhout, JA Muller, PS Grobler, CFJ Meyer, WWJJ Bezuidenhout en WAS Gouws.

en

Judith Cornelia Etresia Bezuidenhout (nee Viloen) 1831-1904

Aanvanklik met ‘n engel op die grafsteen.

‘n Dogter van FJ Bezuidenhout en JCE Viljoen Bezuidenhout 1844-1856, naam onleesbaar

Piet Retief 1910-1912/17, seun van PK en SA Bezuidenhout

Gabriel Johannes Matthys Wolmarans 1882-1934

Willem Stephanus de Beer 1921-1930

Marie 1887-190?, dogter van BC en AMP Bezuidenhout

Dogter van WG en CM O’Reilly 1910-1916

Aleida Roorda (nee Pasman ) 1879-1916

2deLuit JA (Basie) Muller. S.A.L.M. 1915-1940 . Dood in ‘n lugramp.

OORLOGSMONUMENT/ GEDENKSTEEN

Die Oorlogsmonument was oorspronklik in die woonbuurt Kensington opgerig, aangrensend aan Bez Valley. Ter herdenking aan diegene wat in die Groot Oorlog 1914-1918 geveg het. Spesifiek gewy aan die manne van Bezuidenhout Vallei wat vrywillig gaan veg het teen Duitsland en sy bondgenote en wat die hoogste prys moes betaal het. Die lewensverlies onder die manne van hierdie deel van Johannesburd was groot en 64 name is op die gedenksteen aangebring. Die monument was herhaaldelik beskadig deur vandale en byna verwoes.

2020 is dit gerestoureer en verskuif na Bezuidenhout Park, binne ‘n halfmaan klipmuurtjie geplaas, oorkant die ou plaashuis. Die oorblyfsels van die oorspronklike monument is gebruik. Mayat Hart Argitekte het ‘n ou Japanese tradisie van kintsugi gevolg; Die beskadigde dele word nie verbloem en weggesteek nie, maar klem word daarop geplaas as teken van ervaring en belewenis deur die tye.

Foto's van individuele grafte hier te sien: https://graves.eggsa.org/gauteng/Johannesburg-urban/Bezuidenhout-Park/bezuidenhout-family-cem/

Bronne : City of Johannesburg , joburg.org.za/play , South African History Online

Foto’s : Gys Ströh snr Maart 2025. Internet.

  • Hits: 23