Skip to main content

Familie vertellinge: Abraham Justinus Brink

Abraham Justinus Brink (a1b7c2d70)

Gebore: 20 Feb 20 1824 op die plaas Laastegift, dist Somerset-Wes, Kaapkolonie, Suid-Afrika

Hy sterf op 20 Okt 1900 (op die ouderdom 76) in Kaalspruit, dist Loeriesfontein, Kaapkolonie, Suid-Afrika.

Hy is die seun van Johannes Hieronymus Brink en Catharina Louisa de Villiers. Ander kinders gebore uit die huwelik was sy twee broers Jacob Andries Brink en Egbert Eliza Brink.

Abraham Justinus Brink se eggenote trou met Anna Gloudina Louw weduwee Visagie

Hulle kinders:

  • Johannes Hieronymous Brink 1867
  • Daniel Stephanus Brink
  • Johanna Eliza getroud Ras

MY VADER, P.A.L. BRINK HET SELF OP SY DRAAGBARE TIKMASJIEN GETIK en later oorgetik deur sy kleindogter Surita Brink.:

Oupa Abraham verhuis vanaf Laatste Gift, Stellenbosch, na Transvaal tot sover as Baberton waar die koors en terugslae hulle weer laat trek na Naudesbank, Carolina. Hiervandaan trek hulle weer terug na die Kolonie na ‘n plaas in die Boesmanland,

Kaalspruit, Distrik Loeriesfontein. Hier is oupa Abraham oorlede aan die begin van 1900 en begrawe op die plaas Kaalspruit. In die Transvaal het die getroude kinders: Cato, Jakoba, Bettie, Jan en Koos agtergebly en was ook bittereinders tydens die oorlog. Na 1906 het getroude kinders, Abraham, Daniel, Hendrik en Andries teruggetrek na die distrikte Carolina en Belfast. Ouma Anna Glaudina Brink en Tant Gonnie het ook ongeveer 1910 na die Transvaal gekom.

Oupa Abraham trou Anna Gloudina Louw (weduwee Visagie) gebore 1838 en begrawe op Geluk op grootpad na Carolina ongeveer 18 myl vanaf Belfast – sy was die dogter van die ou grootjie Koot Louw van Bovloer en Rooiwal in die distrik Calvinia (volgens legende seun van ‘n prins Von Dickstaff en ‘n Franse meisie ? De Villiers, geloofsvlugteling). Genoemde Anna Gloudina was die vroedvrou tydens my geboorte.

Oupa Abraham was ‘n tipiese, hardwerkende Bolander maar na gevolg van sy buitengewoon groot familie (24 kinders – 6 Visagies en 18 Brinks) en ‘n nomadiese trekgees het hy op finansiele gebied nooit eintlik uitgeblink nie hoewel hy 2 plase besit het naamlik Naudesbank, distrik Carolina, en Kaalplaas, distrik Loeriesfontein, waar hy ook oorlede en begrawe is. Sy seuns was almal flukse en hardwerkende boere maar ook terselfdertyd spekulante, hoewel ongleerd het hulle oor verbasende breinkrag en inisiatief beskik en was oor die algemeen baie suksesvol.

Met ‘n bietjie geleerdheid sou hulle wonders kon verrig het. Nasate van Abraham Justinus Brink sy storie Van wynboer na skaapboer na transportryer.

Soos vertel deur PAL BRINK en sy seuns Vollie en Pieter 12 MEI 1980

BIOGRAFIE : BRINK.PETRUS ABEL LOUW 1907-1983

PAL BRINK vertel:

Trek na Barberton: 1880 Vanaf Plaas Laaste Gift, Somerset Wes, tans deel van Lourensford Wine Estate.

My Oupa Abraham Justinus Brink verhuis in 1880, na sy troue, (Oupa Abraham trou Anna Gloudina Louw (weduwee Visagie) gebore 1838 en begrawe op Geluk op grootpad na Carolina ongeveer 18 myl vanaf Belfast – (presies 8.6 km vanaf Vogelstruispoort se hek is die hek wat na Geluk lei).

Sy was die dogter van die ou grootjie Oupa Koot Louw van Bovloer en Rooiwal in die distr Calvinia vanaf sy erfdeel, sy plaas Laatste Gift, Brinksburg, Somerset Wes, na Transvaal tot sover as Barberton, waar hy 'n tydlank transportryer was vir die goudmyne.

Oupa Abraham was ‘n tipiese, hardwerkende Bolander. Hy was fisies 'n baie sterk man, word vertel dat hy een dag die voer perde kos gee en dat 'n veldperd, 'n een jaar oud vul, tussen in kom bodder en probeer indruk, hy hak toe af en slaat die vul net een hou teen sy kop, daar sak die vul morsdood in sy vier spore!

Circa 1890 Barberton

Waar die koors en terugslae hulle weer laat trek na Naudesbank, Carolina met die wa – eers donkies en later osse

Circa 1896: Hiervandaan trek hulle weer terug na die Kolonie na ‘n plaas in die Boesmanland, Kaalspruit, Distrik Loeriesfontein.

Hy laat Naudesbank aan die oudste seun Jan.

1899 - 1902 ABO

Plaas Kaalspruit. Hier is oupa Abraham oorlede aan die begin van 1900 en begrawe op die plaas Kaalspruit.

1899- 1902 ABO Transvaal

In die Transvaal het die getroude kinders: Cato, Jakoba, Bettie, Jan en Koos agtergebly.

Cato Badenhorst, weduwee Stoltz, en haar baba Abraham, is in Barberton Britse Kosentrasie Kamp oorlede tydens die ABO. So ook 'n tiener dogter van Bettie Faure.

Jan se vrou Pietjie, 'n nooi De Villers se baba seuntjie is in Merebank Britse Konsentrasie Kamp oorlede.

1899 Carolina Belfast ABO en die laaste genoemde was ook bittereinder tydens die oorlog.

Jan het met die Carolina Kommando aan die slag van Spioenkop deelgeneem saam met sy toekomtige swaer, Hendrik Davel. 'n Groot deel van die kommando het daar gesneuwel.

Koos van die Fordsburg Veldkornetskap,Is die tweede Brink bittereinder is in die slag van Elandslaagte gevang en verban na Diyatiwala Kamp in Ceylon.

Hierdie gebore Kolonialers broers en susters en kinders, het 'n groot prys betaal.

1906 Carolina Belfast

Na 1906 het getroude kinders, Abraham, Hendrik en Andries teruggetrek na die distrikte

Carolina en Belfast. En later het Daniel ook teruggetrek na Transvaal.

Genoemde Anna Gloudina was die vroedvrou tydens my geboorte.

C1907 Ouma Brink en Tant Gonnie het ook ongeveer 1907 na die Transvaal gekom. Waar sy in 1909 op die plaas Geluk op die Carolina pad oorlede en begrawe is.

Tant Lizzie is met Kolie Ras getroud en het saam met hom verhuis na Kakamas, Marchand.

In haar moeder se brief aan my ouers hieronder geskryf 3 Junie 1903, lees ons nog hoe hulle aan ploeg is op Loeriesfontein. Hulle had net een dogter Anna Glaudina Ras.

En Lizzie is jonk oorlede. En so het haar tak vir baie jare verdwyn.

Anna is met Nel getroud en hulle had 13 kinders. Sy is in 1946 oorlede. Haar jongste is Sakkie Nel my kleinneef en oud bankbestuurder wat al die jare naby my in Silverton gebly het daar in Lynnwood. Hy was toe een van die verlore Brinks ons het mekaar op Facebook ontdek. Pieter Brink.

Grooitjie Abraham se seuns was almal flukse en hardwerkende boere maar ook terselfdertyd spekulante, hoewel ongleerd het hulle oor verbasende breinkrag en inisiatief beskik en was oor die algemeen baie suksesvol. Met ‘n bietjie geleerdheid sou hulle wonders kon verrig het.

1903

My ouers, was Daniel Stephanus Brink en Martha Magdalena Wilhelmina Maria Louw trou op 13 April 1903 in die NG kerk in Calvinia.

Martha Margaretha Wilhelmina Maria Louw (‘n neef Petrus Abel Louw, van Plaas Ymanskraal, Roggeveld, Karoo, van moederskant, se dogter).

Toe hul by die kerkdeur uitloop het 'n jaloerse vryer, my pa Danie met 'n baksteen teen die agterkop gegooi!

Martha Magdalena Wilhelmina Maria was ‘n baie goeie mens en hardwerkend binne en buite die huis op die plaas – kon lekker gesels en haar huis was altyd vir almal oop.

Godsdienstig, mededeelsaam, gasvry en nooit lelik of vloekwoorde geuiter nie. Na dertig jaar op die plaas, was daar, 'n hoop klippe agter die Bloekombos, sy het elke more daar gaan bid en 'n klip daar op die hoop geplaas. Ouma Maria se geboortedatum is 8 Oktober 1884, Calvinia, Kaap Kolonie. En sy is oorlede op 30 Maart 1969 in Pretoria by haar dogter Marie Du Rand.

Oupa Danie se geboortedatum is 9 Mei 1873. Plaas Laaste Gift, Somerset Wes.

1903 Kaalspruit: Anna Glaudina Brink

Brief aan Pasgetroudes.

Soos gesê was hul huwelik op 13 April 1903 en die volgende brief ontvang hulle van sy Moeder Anna Glaudina, minder as twee maande later:

Den 8 Juny 1903 (Kaalspruit, Boesmanland, Loeriefontein)

Den Heer DS en M Brink, Bloukop Myn waarde en geliefde kinders, ik wil hope dat gy

dese paar regels in gesondheid moge ontvangen.

Met my en alle ben nog wel, door die lieve Heer syn genade. Lieve kinders, het was my een grote blydschap om van u een brief te krygen en nog al van myn dogter die myn nog niet gesien hep. Maar sy weet niet wat respek sy toe geswaai is van myn en haar susters en broeders, dat sy haar liefde toon waar sy in gekom het. Ik sal al eerder gekryf hep maar het was maar altyd een teleurstellig. Maar hep ek tuis gekom by myn huis, de ou spreuk seg: agter os kom tog in de kraal, al is is hy sonder start, maar hy kom. Soo gaat het met myn, langsaam maar ek kom. Soo schryft soo veel maal als u gelegenheid hep. Het sal my myn life wees altos van u te hore. Geef myn toe want ik wil graag van myn kinder seen brief ontvang. Maar di vout? hep kom altyd met uit te stel en dat is niet goed. Hier hep mooi regen, de revier hep een mooi stuk water gehoud. Ik wil hoop dat myn lieve ou smart? Soon na de ploegtyd, syn een en al moeder sal kom kyk, niets sonder syn vroutje. Verder is die nusies schaars. Hendrik is hard aan ploegen, hep syn vee een in die Bokveld (Koue Bokkeveld) laat staan en kom ploegen, Koos Ras en Lissie is op Louris Van tyn (Loeriesfontein) ook aan ploegen, daar was de grond eder nat. maar nu is Kaalspruit ook reg. Soo sal hulle hier veel ploege.

Abram en Andries nog in de Karo. Soo weet ik niks van hulle. Abram was hier om myn te sien, maar ik was nog op Ou Muur. Ik gaan ver 15 dagen van huis en ik bly 3 maande en 15 dagen weg op Ou Muur. Daar die droogte en Hendrik sukkel met de vee, ons hep veel schade van de vee syn dood.

Bring lekker droge vrugte, ik sal het betaal. Verder sal ik sluit voor dit maal.

Met liefste kus aan myn soon en dogter,

U ygen moeder

A G Brink

Pieter Brink se verduidelikende Notas:

Hierdie brief van die formidabele oumagrootjie Anna Glaudina Brink, gebore Louw, is aan my oupa en ouma geskryf minder as twee maande na hul troue op 13 April 1903. Ouma Marja het toe blykbaar nog nie kontak gehad met haar nuwe skoonma nie. Marja was toe maar 18jr oud en haar man Danie 30jr oud. Anna Glaudina Brink, nooi Louw, se man, oupagrootjie Abraham Justinus Brink, haar tweede man, na Gert Visagie, was toe maar 3 jaar oorlede. Ses jaar daarna 1909 is sy self oorlede op die plaas Geluk, Belfast. Hierdie brief gee so ‘n klein kykie op hul lewe op die plaas Kaalspruit, Loeriesfontein, in die Boesmanland, waar haar seun Hendrik Brink, blykbaar die boerdery oorgeneem het van sy pa. Sy oudste broer het die Carolina plaas Naudesbank, ge-erf, waar hy ‘n vermoënde boer geword het.

Grooitjie Abraham Justinus Brink en sy vrou Anna Glaudina Brink gebore Louw het op Naudesbank geboer toe hy transportryer was wat goedere van die Baai per ossewa na Barberton se myne vervoer het. Dit was in die 1880’s. Hierna maak hy die plaas oor aan Jan sy oudste seun en trek terug na sy ander plaas Kaalspruit, Loeriesfontein. Waar hy in 1900 oorlede is. Die jonger kinders soos my oupa Danie hul het almal saam teruggetrek getrek Karoo toe. Jan en Koos en ouer susters, Jacoba trou Stoltz en Badenhorst, Kato, trou Schoonraad en Blaauw en Bettie trou Koos Faure, bly in Transvaal agter en beleef die ABO.

Oupa Danie het op die plaas Bloukop by Ymansdam geboer op die tydstip toe die brief geskryf is. Al die seuns het later Transvaal toe verhuis waar hulle in die Belfast, Carolina distrik geboer het. Oupa Danie het ook gevolg. Al die susters behalwe Lizzie waarna in die brief verwys word, verhuis ook na Transvaal, voor en na die ABO, verskeie beland in die konsentrasie kampe en een sterf saam met haar baba in ‘n kamp, verskeie van AG se kleinkinders sterf in kampe. Lizzie is later saam met haar man Koos Ras na Marchand distrik. Ouma Anna is saam met haar dogter Gonnie Transvaal toe, Gonnie het later met oom Hendrik Davel getrou, ‘n veteraan kryger en bittereinder, van die ABO, haar dogter Annie is met Jan Theron getroud, Johan se pa en ma. Oom Jan, die oudste seun en oom Koos ,veg in die ABO, oom Koos word ‘n banneling na Ceylon.

PAL vertel verder:

My vader Daniel Stefanus (hy) was ‘n baie haastige man en harde werker met verbasende uithouvermoe – opvlieend – gou kwaad maar is ook gou weer goed en was soms spyt dat hy te vinnig opgetree het.

Hy was godsdienstig en streng met sy kinders en het oneerlikheid nie geduld nie – nooit gerook of gedrink nie – hy kon baie lekker lag vir ‘n grap en was baie gasvry teenoor familie, vriend of vreemdeling – het eintlik tot sy nadeel vreemdelinge te veel vertrou.

Oupa Danie is op Kersdag, 25 Desember 1947 oorlede na ‘n prostaat operasie in Pretoria Algemene Hospitaal, hy het een nag van sy bed geval en longontsteking opgedoen. – is op Belfast begrawe,

1906 Ongeveer 1906 is die eerste baba gebore. Die eersteling Abraham het net 3 maande oud geword.

GEBORE 7 FEBR 1907 Petrus Abel Louw:

Ek is gebore op 7 Febr 1907 op 'n plaas Ymanskraal van my oupa Louw, net onder die

Roggeveldse berge in die distrik Calvinia.

Volgens my ma is ek met geboorte eers deur haar, gevoed, toe deur my ouma Cato Louw , daarna 'n ou masbiekervrou en uiteindelik met donkiemelk.

1907 - trek na Bovloer van Gert Visagie.

Ons het volgens my ouers hierna na die familieplaas Bovloer DE HOOP in die Roggeveld getrek. Hier het oupa Danie vir sy halfbroer Gert Visagie om 'n deel geboer op 'n 40 000 morge plaas.

1910 - trek na Witkloof, Belfast En vandaar na Witkloof, distrikCarolina in die Transvaal met 'n kakebeenwa getrek deur 14 donkies, 100 Friesverse, 1000 pond kontant, en 'n ryperd – ek was toe ongeveer 3 jaar oud en my suster Cato 'n baba. Ek was dus met 'n rooi rokkie 'n Voortrekker.

So het ons ongeveer 1910 vanaf Calvinia met ‘n donkiewa, na Transvaal getrek. Die trek het ongeveer 3 maande geduur. Die span donkies het pootseer gekry en is omgeruil in die diamantveld vir ‘n ander span. In Kimberley het skelms so byna, byna die perd agter die wa losgemaak en gesteel. By Christiana moes Oupa tolgeld betaal vir die wa en die diere om oor die rivier te kom. En tussen Heidelberg en Johannesburg het 5 rowers op ‘n spaaider die wa gestop en die vrag begin visenteer toe ‘n sweepklap van ‘n aankomende ossewa hulle laat spaander het, voordat hulle met hul rowery kon aangaan. Die boer met sy 2 seuns met gelaaide gewere het vir Oupa gewaarsku om nie in die nag te trek nie want die rowers en skelms is baie gevaarlik. Andersins het die trek baie voorspoedig verloop.

Op die huidige Orkney het hulle oorgestaan op wat die goudvelde sou word. Ouma was nie beindruk met die plek nie, al wat sy daar kon sien was 'n ou kremsiek bokkie. So het sy in 1955 vir haar kleinseun Pieter vertel.

1910 - Witkloof

Op Witkloof het ek dubbel Longontsteking gekry en die bure oom Jannie Breytenbach en sy vrou het 'n kissie en doodskleed stilletjies gemaak, ‘n doodshempie, en ‘n paar maande later is hul eie seuntjie daarin begrawe. Toe ek so siek was is ek met warm katvelle, hondebloed en lewendige luise met melk gedokter en inflamasieolie - op die kritieke oomblik het 'n mnr Erns Marais gekom en met mosterd baddens en gebed gehelp dat verbetering en herstel ingetree het. Hy het met boererate gedokter. Hy het eers baie ernstig gebid en toe begin dokter – warm katvelle om die bors en ook hondebloed was sommige van die middels. Ek het daarna nooit enige ander kindersiektes gekry nie maar my konstitusie was vir baie lank swak gewees.

Op die plaas Witkloof het byna al die beeste gevrek aan Gousiekte. In die aand kom hulle gesond in die kraal en die volgende more lê daar sommer ses of meer dood – ‘n giftige bossie wat in die rantjiesveld gedurende die najaar groei en ook in die distrik Ventersdorp groei is die oorsaak. Omdat my pa het byna al sy beeste aan Gou-siekte verloor het, het hy toe die plaas verkoop - eintlik het sy broers die grond vir hom gekoop.

Daniel het die plaas Witkloof deur bemiddeling van sy broers Hendrik en Andries gekoop wat eintlik ‘n swak en giftige plaas was waar meeste van sy 100 beeste aan Gousiekte dood is. Daarna koop hy self die plaas Vogelstruispoort waar hy tot sy dood (1947) gewoon het.

Pieter se tussen werpsel: Voor sy dood het hy die plaas verkoop aan mnr George Mills. Wat aan 'n mnr Van Wyk, verkoop het, Die het aan mnr Jan Harm Potgieter verkoop wat 18 jr daar, suksesvol, met beeste en skape geboer het.

Op Vrydag 20 Junie 2014 is vendusie gehou op Vogelstruispoort en is die plaas vr drie miljoen rand aan 'n mnr Burger verkoop.

PAL storie verder:

Ons eerste kind, Magdyna is in 1935, doodgebore op die plaas en haar graffie is 'n paar tree van die plaashek, langs die lyndraad, in die lang hoeveldse gras. My oudste seun Danie is in 4 April 1935 ook op die plaas, in die heel laaste slaapkamer in die suidekant van die huis gebore.

Notas van Danie Vollie: 20 Junie 2014

Die verlede die hede en die toekoms: Die 3 is nou aanmekaar verwant en sonder die verlede is daar nie 'n hede en sonder die hede is daar nie 'n toekoms nie. Die verlede maak ons wat ons is en dit bepaal ons toekoms.

Afrika sê ook 'n mens is 'n mens deur ander mense. Ons voorouers maak ook wie en wat ons is en ook gaan wees ons dra hulle gene met alles wat mooi is of sleg is en so ook hulle siektes en sondes. Waar ons nou is kan ons terug kyk maar ook vorentoe kyk met hoop vir die toekoms. Ons kan nou ook leer uit die verlede vir die toekoms.

So kan ons ook in die verlede gaan kuier soos ons op Vrydag 20 Junie 2014 op Belfast gaan kuier het en die vendusie van my oupa se plaas gaan bywoon het wat deur die huidige eienaars verkoop word.

Ek was op daardie plaas gebore op 5 April 1936, 78 jr gelede. Daar was blykbaar ‘n verpleegster wat by haar, my ma, wag gehou het en wat 'n rooi truitjie gebrei het terwyl sy daar my (en my ma) opgepas het.

Daar was 'n babatjie Magdyna, wat in 1935, voor my gebore was, wat dood gebore was en op die plaas begrawe is.

My ouers het my ook vertel hoe dat my pa en my oupa die perd moes vang in die kraal om op hom op te saal om die dokter te gaan roep (seker op die dorp) daar was nie ambulanse nie. My oupa het glo later die perd 'n vuishou gegee om hom te kan vang.

Wie die dokter gaan roep het, weet ek nie, maar dit was seker maar my pa.

In daardie jare was daar nie die gesofistikeerde mediese dienste soos vandag nie en seker waarom die sussie voor my dood gebore was. Hoe dit ookal sy, op Vogelstruispoort 4 April 1936 het my verlede begin toe ek my eerste skree gegee het.

My pa het my as Danie Theo geregistreer wat 'n kombinasie van die twee oupas se name was, maar my oupa op wie se plaas ek gebore was het sy kar en perde ingespan en dorp to gery en my name verander na Daniel Stefanus wat sy name was. Ek het later jare 'n afskrif gesien van die sertifikaat met die Danie Theo, maar dit het verlore gegaan. Baie jare later het ek die bynaam gekry van Vollie wat ‘n afleiding is van die volstruis dorp Oudshoorn waar ek op hoërskool was en my skoon familie en latere vriende ken my as Vollie, maar my naby familie, noem my Danie, of Daan, of Oudaan.

Dit was 'n baie nostalgiese oomblik toe ek na meer as 78 jaar in die kamer kon staan waar ek gebore was en kon terug dink hoe dit was op die plaas toe ek daar groot geword het en dinge kan onthou soos my tannie se troue op die plaas en hoe ek gespeel het met my 'n niggie wat baie ouer as ek was. Ek kan onthou van die swart kinders van die swart werkers wat die touleiers was van die osse. Ek kan onthou van die keer toe ons van die dorp af terug getrek het plaas toe met 'n wa en osse, nadat die man wat die plaas gekoop het, Mnr Piet Alberts, dit terug gegee het omdat hy dit nie kon betaal nie, en my oupa het al sy geld vir hom teruggegee.

Toe ons op die plaas aankom was dit al sterk skemer en baaaaie koud en ek en my tannie (toe nog nie getroud nie) het op die was gery en was amper verkluim en toe het hulle 'n sinkplaat op die kombuis vloer gesit en daarop vuur gemaak om ons warm te maak. Ek kan ook onthou van 'n klein hondjie wat ek gekry het en met hom gespeel het en hoe hy geruik het, 'n klein hondjie het mos 'n sekere reuk. Daar is nog baie ander dinge wat ek kon onthou maar nou begin vergeet. Ons het ook deur die dorp gery en gestop by die huis op die dorp wat nou heeltemal verander is en mooi lyk met die groot erf en die ou okkerneut en appelbome. Ek kan onthou hoedat my oupa die appeltjies geskil het en dan so fyn gerf het en dan ge-eet het terwyl hy sy voete warm gemaak het in die oond?

My oupa en ouma het van 'n baie groot plaas (40,000 morge) in die Karoo weggetrek na Belfast agter sy ouer broers aan wat toe al in die Oos Transvaal se hoë veld kom boer het. My oupa was een van 18 Brink kinders van een ma en hy het die kaal onbewerkte plaas gekoop en die klip huis laat bou wat vandag nog daar staan. My oupa het ook die dorps huis laat bou (ek het sy naam op die dak balke gesien.

D.S.Brink: dit was en is nog 838 Fitzgerald straat, daar was toe nog geen voorstede nie. Die moeder van my oupa het later op haar oudag by een van die kinders gebly op die plaas Geluk, wat net 'n paar kilometer van Vogelstruispoort af is, en sy is op daardie plaas oorlede en daar begrawe.

Ons het baie jare die graf gesoek omdat die pad wat daar verby loop na Carolina, veskuif was, maar ons het dit nou weer gevind, met die hulp van een van die Stoltz afstammelinge wat in die omgewing boer. Die hartseer van die besoek was dat die oumagrootjie se grafsteen omgeval en gebreek is. Dit was hartseer om die graf so verwaarloos te sien in die middel van 'n mielie land met onkruid en drade wat slap lê ens. Ons was ook by die ou Kerkhof waar my oupa en ouma begrawe lê, en ook net so verwaarloos is met selfs die omheining wat nou afgesteel is en die beeste wat deurloop en orals beesmis, dit maak seer. Orals is daar verwaarlosing soos die ou stadsaal wat vol grafiti is en wat half afgebrand is met 'n kennisgewing wat se dat dit gevaarlik is om daarin te gaan. Hoe kon dit gebeur, dit is die erfenis van die laaste 20 jaar se demokrasie. en ons moet seker trots wees daarop???? Ons ry verby die ou klip kerk waar ek gedoop is as Danie Theo en dit lyk skoon en netjies en mooi met die groot bome en die ou kerk saaltjie wat die eerste kerk was. Ek was in 1948 in daardie klip saaltjie by 'n strewers vereeniging funksie saam met my neef Woltus en toe moes ons elkeen by 'n groepie sit wat dieselfde maand verjaar, en dit nogal by kerslig.

Belfast het daardie jare sy eie krag opgewek en daar was nie 24 uur krag nie. Die kragopwekker het by die dam gestaan en gedoef, doef en die ligte het so flou en dan weer sterk gelig soos die kragopwekker geloop het. Hoe baie het ons nie in daardie dam geswem nie. Ek onthou die Ford en Chev dae. Oom Jan Theron (was met my pa se niggie Annie Davel, getroud, my oupa se suster) en het die Chev garage gehad daar onder by Weimer die prokereur se kantoor en duggans het die ford garage gehad langs die ko-operasie soos jy inkom vanaf die stasie regoor die hotel wat ook nie meer ‘n hotel is nie en die hotel langs tant Kit my pa se suster en oom arie se losieshuis, wat ook nou erg verwaarloos is.

Woltus my neef het eers by Jan Theron sy vakleerlingskap gedoen en toe later by duggans gewerk as hoof van die werkswinkel en later sy hele lewe as ford werkwinkel bestuurder op ander plekke. Woltus was en is nog altyd diep in my hart.

Ek het baie om oor Belfast te vertel en die mense uit my verlede en wat my agtergrond is en waar ek vandaan kom en wat my as mens gemaak het. Ek sal altyd n hunkering hê vir Belfast en sy mense en sy verlede en soos my pa altyd gese het sy sjampanje lug. Tot later meer.

PAL se storie verder: Na 1910 Vogelstruipoort

Hierna het hy self vir hom 'n plaas Vogelstruispoort naby Belfast gekoop. Die plaas was 215 hektaar groot met goeie water en geskik vir bees en skaapboerdery. Hulle het baie jare daargebly. En 'n huis op die dorp gehad, Fitzgeraldstraat 838. Hy was 'n man wat gou kon kwaad word en net so vining kalmeer. Hy was baie waardig, altyd pakklere aangehad selfs op die plaas. Dis soos ek hom onthou, baie vriendelik en sagmoedig, hy en sy broers was spekulante wat die vendusies bygewoon het en hulle was die lewe op die vendusies. Ouma was die groot bidder, het elke more agter die bloekombos gaan bid en 'n klip saamgeneem, toe hulle dorptoe trek, was daar 'n hele hoop klippe.

Toe ek my eerste kar koop het oupa my met die perdekar dorp toe geneem, ek het my lisensie sommer by prokureur Victor Weimer gaan "Koop". Hul het my gewys hoe ek moet bestuur en ek is daar weg met oupa en die perdekar agterna. Toe my pa verby my ry, haal hy sy hoed af en groet oupa my ewe statig, ent verder toe vrek die kar, dan kom oupa verby, haal sy hoed af en groet my statig, so gaan dit tot by die huis, stop en staart. Op die plaas weet ek nie hoe om te stop nie en kom tot stilstand teen die waenhuis. (Die is vandag net 'n ruine).

(Pieter) Hy kon die 40 000 morg erfplaas in die Karoo ge-erf het maar het vir sy halfbroer oom Gert Visagie, gesê: "Nee boeta, jy is 'n harde tugmeester en laat my doodwerk ek sien nie kans nie!" Pieter se tussenwerpsel: Hy en oom Gert se bydrae tot die ABO was dat hulle op die stoep gesit het en 'n masjien ontwerp het wat swaarde het wat in die rondte draai, oor die Engelse vlieg en hulle koppe afkap. Hulle oom Abraham Louw was die Kommandant van Calvinia se Rebelle en van hul broers soos die oudste, Oom Jan, en Oom Koos was bittereinders.

So ook sy swaer oom Hendrik Davel, wat met sy jongste suster Tant Gonnie getroud was. Almal groot krygers As twaalf jarige seun was hy saam met sy pa Abraham aan transport ry van die Baai na Barberton se Goudmyne. Daar was 'n sak met suiker op die wa wat 'n gat ingehad het en hy het toe 'n koppie suiker daaruit gesteel en opge-eet, hy gaan toe in 'n koma. Jare later was hy 'n diabeet, wat beide Piet en sy seuns ge-erf het. Hy het blykbaar prostaat kanker gehad en was Kersfees 1947 in die ou Algemene Hospitaal in Pretoria. Hy het gedurende die nag van die bed afgeval en het dubbele longontsteking opgedoen, waaraan hy op Kersdag oorlede is. Hy was die pa van 7 kinders waarvan ses volwasse geword het.

PAL verder: 1917 Karoo toe.

My pa het Vogelstruispoort in 1917, na 7 jaar in Transvaal, (ek was toe 10 jr oud) aan oom Piet Alberts verkoop en teruggetrek na die Karoo vir 'n verblyf aldaar van byna 18 maande – 1919 Terug Na Transvaal (Ek was seker 12 jr oud in 1919) Terwyl dit nooit gereën het nie- (in die Karoo) (het ons weer) terug gekom na Transvaal. Die koper mnr Piet Alberts, het weens Gou siekte onder sy beeste en ander redes nie instaat gewees om die verbandskuld te betaal nie - (my pa het al sy geld vir hom terug betaal). Ons het toe eers op 'n klein plasie Generaalsdraai by Sunburystasie gewoon en daarna op Belfast dorp.

My 2 susters en ek het al hierdie tyd nooit 'n skool bygewoon nie. En die hoof Mnr Beest van Andel het spesiaal my ouers daaroor ernstig aangespreek - hy het my egter spesiaal gehelp om my gewese klasmaats weer in te haal. (Ek het Std 6 geslaag met minder as 4 jaar skoling) in 1919. Dit was moeilike tye en my ouers het ons nie eintlik aangemoedig om te leer nie want ons arbeid op die plaas was vir hulle van meer betekenis en waarde - ek-.wou graag verder leer maar na 'n kwartaal in 1920, in standerd 7, op die dorp se hoërskool, is ek weer uit geneem.

1921- En 2 jaar (1921) later het ek op my eie met ‘n trapfiets vanaf die plaas na die dorp gery – ek kon dit nie volhou nie en het toe maar gaan boer en spekuleer. 1928 my eie boerdery

In 1928 het ek die plaas Weltevrede met 800 appelbome, naby Belfast dorp gekoop.

In 1930- Depressie-familie bankrotskappe. Die depressie van 1930 en die ineemstorting van die mark was die direkte oorsaak van vele bankrotskappe.twee van my pa se familie, het bankrot geraak en een en sy seun, het terwyl hy insolvent raak, gekom en van my en my pa 600 pond se skape gekry en op skuldbewyse van 3 maande, het ons uiteindelik net 'n halfkroon uit elke pond, weer terug gekry. Ek het toe maar die res van my diere – skape beeste ens. verkoop teen belaglike pryse. Oupa Danie het in die Depressie varke na die Johannesburg mark gestuur en hy moes inbetaal op die spoorvrag. 1930 SAP en by die SA Polisie aangesluit.

Na opleiding by die SAP-kollege in Pretoria is ek uitgeplaas. In die Polisie Diens was ek eers op Marshallplein, Jobannesburg ge stasioeneer en vandaar na Hoofkantoor, Pretoria, waar ek in die Magasyn- meestersafdeling gewerk het. Om my pa te help met skuld aan ’n oom, het ek my grond, die plaas Weltevrede, opgeoffer met die verstandhouding dat my pa my later as dinge regkom die 400 pond weer sal vergoed, wat egter nooit gebeur het nie, want sy gesondheid het verswak en hy was nie in staat om dit ooit te doen nie. 1934 Maart 26. Ek is toe na Vereeniging verplaas waar ek dan ook my geliefde vroutjie ontmoet het en ons in alleryl op hierdie dag, 'n Maandag- middag getroud is.

Daarna is ons as getroudes verplaas na Volksrus en toe na Heidelberg 1935.

Bedank uit die SAP Na byna 5 jaar in die Polisie het ek bedank omdat ‘n bedrag van 200 pond wat ek nog geskuld. het, wat hulle vir die boere afgeskryf het, deur my betaal moes word uit die hongerloon wat ek verdien het - toe ek op die plaas, kom het ek die skape wat nog daar was aan die eiser, die Staat, gaan gee en die saak toe opgeklaar. Dit was moeilike tye, ons eerste baba is op die plaas doodgebore, ons het aartappels op die land opgetel en gaan ruil, vir voorrade, by die Indiër winkel op die stasie. In die begin jare het dit maar soms broekskeur gegaan op die plaas maar met spekulasie by die boerdery het dit al beter en beter gegaan. Die Brinks het die gees en lewe gewees van alle vendusies en gereken as welvarende mense.

1940's Belfast - Vollie Vertel:

Saterdag oggend in Belfast (in die 40 tiger jare) Belfast is vandag nog steeds 'n kleindorpie in die ou hoëveld wat nou so opgefoeter word deur steenkool myne en nywerhede in die omgewing maar ek onthou die dorpie soos dit was in die jare veertig. Belfast was 'n baie rustige dorpie met min wat aangegaan het gedurende die week maar Saterdag oggende was besonders want die boere het van die plase af gekom om besigheid te kom doen en daar was 'n boeremark waar jy groente kon koop en alles wat op 'n plaas geproduseer was. Dit was ook 'n sosiale geleentheid waar almal mekaar geken het en ook saam gekuier het. Die poskantoor was 'n ander bymekaar kom plek' want daar het die boere hulle pos kom afhaal en weggestuur en daar het my oupa en ouma hulle pensioen gaan haal. Die poskantoor Belfast,1952, die poskoets van die van Riebeeck fees, het hier stilgehou. Ftzgerald’s was die grootste algemene handelaar op die dorp en daar het almal kruideniers en hardeware en klere en 'n saal en toom gekoop. Tant Bettie Faure, oupa Danie se suster, was die ma van die Fitzgeralds. Die ou man agter die harde ware toon bank het vir n leeftyd daar gewerk, oubaas Heyns, en hy was 80 jaar oud to werk hynog daar. Lizzie Schoonraad het ook in Fitzgeralds gewerk vir haar hele lewe, sy was nooit getroud nie, en was 'n klein nigggie. Daar was nog 'n winkel wat ek nie meer die naam kan onthou nie maar hy was nie so belangrik soos Fitzgeralds nie.

Dit was Van Vuuren se winkel langs die hoërskool. Dit het later afgebrand. Daar was een kafee maar daardie jare was 'n kafee nie so belangrik gewees nie en die kafee het aan 'n Marais behoort wat ook die taxi gehad het. Sien mense het eerder by hulle dorps familie of vriende gaan tee of koffie drink. Die dorpenaars het dan ook sommer lekker vars plaas produkte gekry. Die Kerkhof was ook 'n besoekplek en dan natuurlik ook die ko-operasie waar al die plaas benodighede gekoop was soos voer, saad, en diere medisyne en alles wat op 'n plaas nodig is. Toe ek by my ouma gebly het, het oom Arrie en tant Kit en Woltus en die meisiekinders almal saam gekom dorp toe en dan by ons aangekom met groente en vleis en ander plaas produkte en veral ertjies, waarmee oom Arrie geboer het. Woltus het altyd die kar bestuur, dit was n ou “dodge” of “plymouth” so 'n bruin kleur, daardie jare was bruin die vernaamste kleur.

Een keer moes Woltus, iets gaan doen en ek moes saam ry en net nadat ek in die kar ingeklim het trek hy weg met 'n groot spoed en hy maak 'n “u” draai in die pad regvoor die huis en in die draai glip my deur oop en ek trek soos ‘n vrot vel deur die lug en rol in die stof straat. Ek het n groen baadjie aangehad en hulle sien toe net 'n groen bondel deur die lug trek, maar seker om dat ek gerol het, het ek nie seergekry nie en dadelik opgestaan, afgestof en weer ingeklim en ons het verder gery.

Persons

  • Hits: 8