Switch to English
Switch to English

eGGSA eGSSA

 Articles Artikels

Italianers En Die Voortrekkermonument

Estelle Pretorius, Navorser, Voortrekker Monument

'n voorlegging aan die Ntvl GGSA tak gemaak

Inleiding

Dit is nie algemeen bekend dat Italianers by die bou van die Voortrekkermonument betrokke was nie. Afgesien daarvan dat die aanvangsbouwerk tot na die hoeksteenlegging (1938) deur n Italiaanse firma behartig is, was Italianers ook betrokke by die bou van die laermuur en die giet van Anton van Wouw se vrouestandbeeld voor die Monument. Verder is die marmerfries in Itali uit Italiaanse marmer gekap.

Gedurende die 17de en 18de eeu het enkele Italianers hulle in Suid-Afrika gevestig, maar dit was teen 1880, met die goudstormloop, dat hulle getalle merkbaar toegeneem het. Teen 1890 was daar byvoorbeeld tussen 150 en 200 Italianers in die Kaapkolonie woonagtig, en teen die einde van daardie dekade ongeveer 1200 in Transvaal. Baie van hulle was mynwerkers, bouaannemers en entrepeneurs. Maar nie al die Italianers was arbeiders en winkeliers nie - daar was ook professionele lui, soos dokters, prokureurs, ingenieurs en selfs kunstenaars. Teen 1900 was tussen 3,000 en 4,000 Italianers in Suid-Afrika woonagtig.

Met Uniewording in 1910 het die boubedryf geblom. Die twee nuwe hoofstede, Kaapstad en Pretoria, moes onder meer van nuwe openbare geboue voorsien word. n Groot aantal klipkappers, messelaars en versierders het byvoorbeeld aan die konstruksie van die Uniegebou (1910-1912) in Pretoria gewerk - baie van hulle was Italianers. In die 1930s was daar merkbare vooruitgang te bespeur in die ontwikkeling van industrile, kommersile en landbou-aktiwiteite van die Italiaanse gemeenskap. Op die voorpunt was die familie Carleo (meganiese industrie), Lupini (boumateriaal), Gallo (spoorwegkonstruksie), Rossi, Beretta en Lombardi (plaasboere). So het Italiaanse industrialiste, entrepeneurs en individuele tegnici bygedra tot die land se vooruitgang.

Agtergrond: Die Sentrale Volksmonumente Komitee

Op n kongres van die Federasie van Afrikaanse Kunsvereniginge in 1931 het verteenwoordigers van verskeie monumentekomitees en ander belanghebbende organisasies onder voorsitterskap van dr. E.G. Jansen in Bloemfontein vergader. Die doel was om n sentrale liggaam vir die oprigting en instandhouding van volksmonumente te stig. Die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) is gevolglik gestig en het besluit om n nasionale monument ter ere van die Voortrekkers tydens die 1938-Eeufees op te rig.

Na deeglike oorlegpleging is uiteindelik besluit om die beoogde monument in Pretoria op te rig en die argitek Gerard Moerdyk is deur die SVK aangewys om n monument te ontwerp. Die ontwerp is in 1936 goedgekeur en tenders vir die verskillende fases van die bouwerk kon aangevra word.

Bouwerk

Op 13 Julie 1937 het n sooispitplegtigheid op Monumentkoppie plaasgevind. Advokaat E.G. Jansen, voorsitter van die SVK, het die eerste sooi omgekeer. Teen Februarie 1938 was die uitgrawingswerk en fondamente ver gevorder en kon tenders vir die bouwerk aangevra word. (In die fondament van die Monument is uiteindelik 7,646 kubieke meter beton gebruik.) Tien tenders is ontvang en die laagste tender (175,000) is aanvaar, naamlik di van die Italiaanse bouaannemer, A. Cosani. Die bouwerk het vroeg in 1938 begin en op 16 Desember 1938 is die hoeksteen van die Voortrekkermonument gel as hoogtepunt van die Sentrale Eeufeesviering in Pretoria.

Na die uitbreek van die Tweede Wreldoorlog in 1939 het die bouwerk tot stilstand gekom en Cosani was begerig om van die kontrak onthef te word, aangesien hy nie finansieel sterk genoeg was om die bouwerk te voltooi nie. Hy het sy sekuriteite hoofsaaklik in Itali gehad en moes heelwat van die benodigde masjinerie en gereedskap ook uit Itali kry. Die kontrak is in n goeie gees beindig en die SVK het Cosani n bedrag van 2,103 aangebied vir die werk wat sy firma reeds afgehandel het.

In 1940 is n tender vir die voltooiing van die bouwerk van die firma W.F. du Plessis van Bloemfontein aangeneem - die firma sou slegs van blanke arbeid gebruik maak. As gevolg van die oorlogtoestande was daar toenemend gebrek aan blanke arbeid en van 1942 af is 12 swart arbeiders gebruik om die beton te meng en die terrein skoon te maak.

Standbeeld: Vrou en kinders

Aan die voet van die Monument is n standbeeld van n Voortrekkervrou en haar twee kinders. Moerdyk het n ereplek aan die Voortrekkervrou gegee, want sonder haar bydrae sou die Groot Trek nie blywende vestiging tot gevolg gehad het nie.

Die beeldhouer was Anton van Wouw (1862-1945). Hierdie beeldegroep was sy laaste opdrag en hy was toe reeds bykans 76 jaar oud. Hy het n verpleegster, Isabel Snyman, as model vir die Voortrekkervrou gebruik en Betty Wolk en Joseph Goldstein as modelle vir die kinders. Klaarblyklik het Van Wouw vroeg in Julie 1937 met die beeldhouwerk begin en sy kontrak met die SVK het op 31 Maart 1938 geindig. Die Vrou en kinders is 4,1 meter hoog, weeg 2,5 ton en is deur die Italiaanse firma R. Vignali in Pretoria gegiet.

Wat die brons beeldegroep merkwaardig maak, is dat dit die eerste openbare beeldhouwerk is wat in een stuk in brons in Suid-Afrika gegiet is. Op 6 November 1937 het Renzo Vignali Van Wouw 725-0-0 vir die giet daarvan gekwoteer: The casting of the bronze in one piece will give a better result as there will be no weldings or alteration whatsoever. The alloy of the metal to be used shall be of 84% copper, 14% tin, 2% zinc... (Die Vrou en kinders is in Oktober 1965 voor die Voortrekkermonument verwyder en deur dieselfde firma in Pretoria skoongemaak - die eerste keer dat dit gedoen is.)

Renzo Vignali (1903-1945) het in 1931 uit Itali na Suid-Afrika gekom; waarskynlik op aandrang van Van Wouw. Hy was n bekwame bronsgieter wat die kuns in sy vader se gietery in Florence bemeester het. Hy het aanvanklik in Johannesburg gewoon en later na Pretoria-Wes verhuis, waar die beeldegroep van die Voortrekkervrou en kinders op 5 Augustus 1939 in brons gegiet is. Vir hierdie taak het Renzo Vignali sy vader, Gusmano Vignali (1867-1953), se hulp ingeroep. Gusmano het vroeg in 1939 in Suid-Afrika aangekom en was sy seun ook behulpsaam met die giet van Coert Steynberg se standbeeld van Louis Botha voor die Uniegebou. In 1942 het Vignali Gietery na Pretoria-Noord verhuis, waar die besigheid steeds bedryf word.

Die Vignali Gietery het n vername rol in Suid-Afrika se kunsgeskiedenis gespeel - gedurende die eerste 27 jaar van sy bestaan (1931-1958) was dit die enigste gietery in Suid-Afrika wat in die giet van kunswerke gespesialiseer het. Voor Vignali se koms na Suid-Afrika moes kunstenaars (o.a. Van Wouw) hulle werke oorsee laat giet - in lande soos Itali en Nederland. Dit het ho koste en vertragings meegebring. In 1958 het Hendrik Joubert, n diensnemer van Vignali Gietery, sy eie onderneming begin en sedertdien is verskeie onafhanklike gieterye in die lewe geroep. Die baanbrekerswerk op hierdie gebied is egter deur Vignali Gietery gedoen.

Renzo Vignali is onverwags in 1945 oorlede en het sy vrou Vittoria en dogter Gabriella nagelaat. Sy vader, Gusmano, het sy verblyf in Suid-Afrika met twee jaar verleng ten einde Renzo se onafgehandelde werk te voltooi. Daarna het Luigi Gamberini (1916-1987), n diensnemer van Vignali en n voormalige Italiaanse krygsgevangene van Zonderwater, die besigheid voortgesit. Luigi Gamberini is in 1960 met Renzo se dogter, Gabriella, getroud. Na Luigi Gamberini se dood het sy twee seuns, Lorenzo en Carlo Gamberini, die Vignali Gietery oorgeneem, ondersteun deur hulle moeder, Gabriella. Sy is in 1996 oorlede. Hoewel die twee Gamberini-broers in Suid-Afrika gebore en geto is, het hulle hulle gietkuns op die tradisionele Italiaanse wyse geleer en hulle respekteer steeds die ou bewese giettegnieke.

Die Vignali Gietery het ook Phil Minnaar se beeld van generaal P.J. Joubert gegiet. Hierdie borsbeeld staan tans by Fort Schanskop, wat deel van die Voortrekkermonument Erfenisterrein vorm.

Historiese fries

Die fries teen die mure van die Monument se Heldesaal is n intrinsieke deel van die ontwerp - in basrelif word die verhaal van die Groot Trek van 1835 tot 1852 in 27 panele uitgebeeld. Die fries verbeeld nie net die geskiedenis van die Groot Trek nie, maar toon ook die lewenswyse, werkmetodes, gevegte, godsdienstige beskouing en lewensingesteldheid van die Trekkers. Die fries het 30,000 gekos om te vervaardig, is 92 meter lank en een van die grootste bestaande marmerfriese ter wreld.

Vier beeldhouers het die fries vervaardig, naamlik Hennie Potgieter, Laurika Postma, Frikkie Kruger en Peter Kirchhoff. Hulle het vyf jaar lank daaraan gewerk om volgrootte gipspanele te maak, waarna die panele na Itali gestuur is om in marmer uitgekap te word. Volgens Hennie Potgieter is besluit om die panele in Itali uit te kap, aangesien Suid-Afrikaanse marmer nie vir beeldhouwerk van daardie formaat geskik is nie. Dit sou goedkoper wees om klaargekapte marmerpanele van Itali na Suid-Afrika te vervoer, as om groot, swaar marmerblokke uit Itali in te voer en die beeldhouwerk ter plaatse te doen.

In Florence is die panele deur 50 voorkappers onder toesig van n bekende Italiaanse beeldhouer, prof. Romano Romanelli (1882-1968) uitgekap. Voorkappers is nie self beeldhouers nie, maar kan met behulp van n punteermasjien n beeldhouer se werk presies nakap. Romanelli het n groot ateljee met masjinerie en tegniese apparaat in Florence gehad, waar n groot aantal voorkappers gelyktydig kon werk. Romanelli het in die Suid-Afrikaanse geskiedenis belang gestel en n deeglike studie van die Groot Trek gemaak. Hennie Potgieter en Laurika Postma het n jaar lank in Itali gewoon om toe te sien dat alles na wense verloop, naamlik van einde 1947 tot einde 1948.

Driehonderd en sestig metrieke ton Quercetta-marmer is uit die groewe gehaal - die voltooide fries weeg ongeveer 180 metrieke ton. In die marmergroewe in Itali was voortdurend stakings en die werk is baie vertraag. In Oktober 1949, twee maande voor die inwyding van die Voortrekkermonument, het nog n paar panele in Durban aangekom wat na Pretoria vervoer moes word; agt panele van die fries was nie gereed met die inwyding nie.

Met die inwyding van die Monument is n medalje aan Romanelli gestuur as huldeblyk vir sy aandeel. Op grond van fotos en planne wat hy van die Voortrekkermonument gesien het, het hy verklaar dat dit uit n artistieke oogpunt n baie belangrike monument is; n skepping van eersterangse gehalte.

Thrsa Viglione

Paneel 15 van die marmerfries is n uitbeelding van die heldedaad van n Italiaanse vrou, Thrsa Viglione. Sy was n negosiehandelaar wat met 3 Italiaanse mans in 3 waens naby die Trekkers gestaan het om handel te dryf. Tydens die Zulu-aanval op die Trekkers by Bloukrans op 17 Februarie 1838, het sy onverskrokke opgetree deur te perd langs die Boesmansrivier af te jaag tot by die laer van Gerrit Maritz om die Trekkers teen die aanrukkende Zulus te waarsku. Hierdie Trekkers is daardeur op hulle hoede gestel en kon hulleself teen die Zulus verdedig - so het sy baie mense se lewens gered. Na die aanval het sy gewonde kinders in haar tent verpleeg en ook daardeur die bewondering van die Trekkers afgedwing. Frikkie Kruger, die beeldhouer van hierdie paneel, het n Italiaanse dame, Lea Spanno, as model vir Thrsa Viglione gebruik. Lea Spanno het in n apteek naby die kunstenaars se ateljee in Sunnyside gewerk.

Laermuur

Rondom die Monument is n laermuur van 64 waens - dieselfde aantal waens is tydens die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838) gebruik. Die Voortrekkers het laer getrek as gevaar dreig en het die militre waarde van die laer bewys. Die laermuur vorm n simboliese keerwal teen alles wat bots met die ideale en opvattinge van die Voortrekkers.

Die laermuur bestaan uit terazzowerk - n mengsel van stukkies marmer en sement. Wit sement is uit Amerika ingevoer en stukkies wit marmer uit die groewe van Marble Hall is gebruik, asook stukkies blou graniet van Namakwaland. Die fondament van die laermuur is in Maart 1949 deur die firma Dey van Pretoria gel. Frikkie Kruger het die kleimodel gemaak, waarna n gipsafdruk gemaak en na Johannesburg geneem is. Daarna is afdrukke in sement gemaak en die Italiaanse firma Lupini van Johannesburg kon die finale gietwerk doen. Die finale sementvorms is regstreeks na die Monument geneem, waar die gietwerk uiteindelik gedoen is.

Die eerste wa is in Maart 1949 voltooi. Elke wa weeg ongeveer 8 ton, is 4,6 meter lank, 2,7 meter hoog en is uit 24 seksies saamgestel. Die totale lengte van die laermuur is 313 meter. Feitlik al die kunstenaars wat aan die laermuur gewerk het, was Italianers. In Die Transvaler van 21 April 1949 verskyn n foto van twee van die Italianers, naamlik Fornoni en Carrara.

Samevatting

Uit voorafgaande is dit duidelik dat die Italianers wat n aandeel in die geskiedenis van die Voortrekkermonument gehad het, tot nog toe nie die erkenning gekry het wat hulle verdien nie. In die literatuur word soms net terloops na hulle werksaamhede verwys, wat navorsing aansienlik bemoeilik.

Op 22 Mei 1995 het Romano Romanelli se kleinseun, Laurent Romanelli Faure, fotos van sy oupa aan die Voortrekkermonument gestuur:

I am very proud to be associated with your country. Your monument is part of myself as it represents some of the values my grandfather loved so much and that I share.... I wish South Africa the best.

Estelle Pretorius
Navorser, Voortrekker Monument
18 Augustus 2003
 


BRONNE

Aspeling, H.R., Deur hulle leef ons nageslag. Die Huisgenoot, 24 March 1950.

Du Plessis, A., The Renzo Vignali Artistic Foundry: a history of its establishment and

contribution to bronze sculpture in South Africa, 1931 - c. 1958. Unpublished MA-

thesis, University of the Witwatersrand, 1996.

Ferreira, O.J.O., n Volk se hulde. Pretoria, 1975.

Ferreira, O.J.O., Die geskiedenis van die Sentrale Volksmonumentekomitee. Unpublished

MA- thesis, University of Pretoria, 1970.

Grobler, J., Ontdek die Voortrekkermonument. Pretoria, 1999.

Potgieter, H., Unpublished information brochure, Pretoria, n.d.

Sani, G., History of the Italians in South Africa, 1489-1989. Edenvale, 1992.

Schoon, H.F. (ed.), The diary of Erasmus Smit. Cape Town, 1972.

Schoonraad, M., Suid-Afrikaanse kunstenaars se siening van die Groot Trek, Lantern

37(4), October 1988.

Swart, M.J. (ed.), Afrikanerbakens. Johannesburg, 1989.

 

Minutes SVK, 26 June 1937.

Minutes SVK, 28 March 1938.

 

Dagbreek en Sondagnuus, 30 October 1949.

Transvaler, 05 March 1949.

Transvaler, 25 March 1949.

Transvaler, 21 April 1949.

Transvaler, 14 October 1965.

Volkstem, 16 December 1949.

 


tuisblad | voordele | inhoud | sluit aan | privaatheidsbeleid | gedragskode | meer oor ons | skakels

home | benefits | contents | join | privacy policy | code of conduct | about us | links